CALITZDORP NUUS - Calitzdorp, ongeveer 50 km vanaf Oudtshoorn op die bekende R62, se ekonomie berus veral op landbou, maar toerisme het die afgelope dekade ook hier in die Klein-Karoo geblom.
Hier word wingerd, vrugte en groentesaad geproduseer en oesfeeste wat toeriste van heinde en ver lok, fokus hoofsaaklik uitvoervrugte, wyn en port.
Calitzdorp is veral bekend vir uitstekende port en wyn wat by die drie hoofkelders, naamlik Boplaas, De Krans en Calitzdorp Kelders en kleiner kelders Axehill, Du’SwaRoo en Peter Bayley Winery gemaak word.
Hanepoot- perske- en appelkoospluk is hoogtepunte vir besoekers tydens die somermaande. Die rustige, landelike atmosfeer van die dorp het oor jare ook die tuiste geword van mense wat die stadsrumoer wil ontvlug, soos ‘n klomp kunstenaar wat hulle hier tuisgemaak het.
Bekende kunstenaars soos Marinda Combrinck en Derek McKenzie het hul ateljees hier, en Gallery 62 en die Bloemin Meekat-galery het ‘n verskeidenheid kunsskatte.
‘n Agterpadroete met grondpaaie langs Oudtshoorn toe is uit en uit die moeite werd met ten minste vier kunsplekke langs die Groenefontein/Kruisrivier-roete. Dit sluit Clementina van der Walt se Kraaldoring-ateljee en galery, Marcia Vermaak se ateljee en galery, Marcia’s Studio, Mike Muuren se Oude Poskantoor ateljee en galery, en Roger Young en Phyllis Midlane se Kruisrivier-galery in. Die roete is gewild onder fietsryers wat sommer vir die lekker fietsry, asook motorfietsryers en 4x4 entoesiaste, al is die grondpad glad nie sleg nie en ‘n mens met ‘n gewone voertuig deur die wonderskone Kruisriviervallei kan ry. Hou jou kamera gereed.
Calitzdorp is ook ‘n gunsteling bestemming vir buitelug-entoesiaste. Kevin Koen van Karooicus, Gamka River Safari Co, en Alistair Reisenberg van Alicatt Tours, bied verskeie toere aan wat besoekers die geleentheid gee om die omgewing en die natuur te ontdek.
Jamesly Rutherford, eienaar van Soeterus Gasteplaas, bied ook verskeie fietsyroetes in en om Calitzdorp aan.
Vir volbloed 4x4-entoesiaste is daar ook verskillende roetes om te verken, soos die Southern Comforts 4x4 Obstacle Illusion met ‘n 3-gradering, Rooiberg 4x4-ekoroete, Total 4x4-reservaat, Buffelspoort met drie gemerkte- en een begeleide roete in die Ladismith-omgewing, en die Assegaaibosch privaat natuurreservaat in die Van Wyksdorp-omgewing.
Kontak Calitzdorp Toerisme se kantoor by 044 213 3775 of besoek die webblad www.calitzdorp.org.za
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein Karoo nuus'